Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die jaarlikse Afrikaans-Ekspo hierdie week bekend gestel – met nuwe vorm en kleur.
Die internasionale ekspo is ’n skryfkompetisie wat veral fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans.
Volgens Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte by die FAK, is vanjaar se tema “Protes” en derhalwe word deelnemers gemotiveer om te protesteer wat hulle dink onregverdig en onbillik is.
Die FAK moedig alle graad 6 tot 12 leerders en studente, Afrikaanse huistaalsprekers of sprekers wat Afrikaans as ’n tweede of derde taal het, in enige land, om te protesteer deur middel van ’n dagboekinskrywing, koerantberig, opstel, kortverhaal, poësie, fotografie en/of ’n historiese geskiedenisopstel.
“Die ekspo word vanjaar in ’n nuwe formaat aangebied om sodoende aan te pas by die moderne tegnologie. Deelnemers sal van hul persoonlike sosiale media gebruik moet maak as deel daarvan om in te skryf en die opwindende nuus is dat studente ook vanjaar vir die eerste keer kan deelneem aan die dinamiese kompetisie,” vertel Mnr Jansen van Vuuren.
Belangstellendes kan https://ekspo.fak.org.za/ besoek om in te skryf. Inskrywings vir die kompetisie sluit Vrydag 30 Junie.
Die wenner ontvang die wisseltrofee en R5 000 kontant word gegee vir hul skool vir hulpmiddels of ’n opvoedkundige uitstappie vir die Afrikaans- of Geskiedenisklaskamer.
Die skool wat die meeste leer-ders inskryf vir die kompetisie, kry R10 000 vir hul Afrikaanse departement en ontvang ook ’n FAK-boekgeskenk en ’n kopie van die nuutste FAK-Sangbundel vir hulle skool.
Vir meer inligting kontak Johan Jansen van Vuuren by 012 301 1777, 083 265 5533 of johan@fak.org.za