’n Sprankel verhaal wat wyd en syd inspireer

Corrie Laubscher.

Durbanville inwoner en lid van die Amateur Skrywers Bond, Corrie Laubscher, se werk is in Sprankel, ’n bundel kortverhale en gedigte, opgeneem.

Die bundel is ’n keur uit die Afrikaans en Engelse inskrywings vir die Amateur Skrywers Bond (ASB) se skryf- en gedigte kompetisie en ander verdienstelike werk wat deur ASB ontvang is.

Sprankel is saamgestel deur Ernie Mellet, hoof raadgewer van die Amateur Skrywers Bond.

Die ASB is ‘n nie-winsgewende organisasie waar amateurskrywers van goeie raad voorsien word en gratis nasienwerk beskikbaar is.

“So het ek toe ook by hierdie organisasie aangesluit en al baie geleer,” sê Corrie.

“Nadat ek vir tien jaar by die SAUK in Aucklandpark by Afrikaans Stereo, nou RSG, as sekretaresse vir Edwill van Aarde en ook Sarel Myburgh gewerk het, het ek na George verhuis en by die Gemeenskapsradio Suid Kaap Stereo, onder Paul Eilers gewerk.

“Hier het ek die Hak-tot-Toon Voetslaanklub gestig en gereeld ons stapprogram aan die Buite Burger se stapdagboek voorsien, waarna ek toe gevra is om oor die staproetes betrokke, te skryf. So het my aanvanklike skryfloopbaan begin.

“Die skryfster, Dalene Matthee (nee Scott) verskyn in my moeder, ook ’n nooi Scott se familielyn). Dalk kom so ’n bietjie talent van hier gekry,” glimlag Corrie.

“Intussen het ek afgetree en na Durbanville verhuis en staan die woorde steeds rye in my kop om neergepen te word.

“Ek voel juis nou baie trots dat my storie, Rol net die drom, opgeneem is in Sprankel en ook baie dankbaar dat ek Jason Kamfer se verhaal kan vertel.”

Rol net die drom is die verhaal van Irena Coetzee en Jason Kamfer van Bonnievale.

Irena wat in remissie is nadat sy ’* tyd terug met kanker gediagnoseer was, het na haar man se dood ’* kunsgalery geskep by haar huis waar sy steeds voltyds skilder en uitstal.

Op ’n dag het ’n onbekende jong seun van 16 jaar, Jason, saam met iemand anders daar aangekom.

Jason het letterlik van die een kunswerk na die ander gehardloop om dit te bekyk. “Ek het my verstom oor die kind van die plakkerskamp se belangstelling in my werk”, aldus Irena.

Sodoende het sy hom genooi en vir meer as drie jaar elke Dinsdag vir hom ’n kunsklas met kuns-opleiding gegee.

Intussen het Heidi van der Merwe, ’n boervrou van Bonnievale, wat gereeld oorsese besoekers, onder andere ook van Luxembourgh, in hul dorp, Bonnievale rondgewys en haar droom gedeel het om die nood van die kinders in die plakkerskamp te verlig.

’n Reuse opvoedingsprojek is sodoende begin en die “Bonnie People Project” is in die skooltjie digby die plakkerskamp gestig.

Die ondersteuning van mense van Luxembourgh was oorweldigend.

Christa Godfrey, ’n maatskaplike werker wat haar geroepe gevoel het om by die projek aan te sluit, saam met ’n onderwyseres van Luxembourgh, Steffi Thill, was so beïndruk met Jason en het aangebied om hom te help ’n boek oor sy lewe te skryf.

Hy het dit in Afrikaans gedoen en ook in Luxembourgish. Luxembourgh het ook sy boek geborg.

Vanweë die suksesvolle verkope, ook in Luxembourgh, het Steffi inisiatief geneem met ’n “musical” op die verhoog.

Met ’n drie weke skoolvakansie het Christa vir Jason saamgeneem Luxembourgh toe en tot sy groot verrassing het hul hom daar vereer met diè “musical” wat Steffi van sy boek se storie gemaak het.

As talentvolle jong skilder is van sy kunswerke ook al in Duitsland verkoop.

Jason en Irena het ook al op uitnodiging motiveringspraatjies gedoen deur spontaan hul inspirerende suksesverhale te vertel, ten spyte van talle beperkings en terugslae in hul albei se lewens.

Sprankel is onlangs vrygestel by die Montagu Boekefees.