Afrikaanse lirieke skrywer en digter Rika Nel van Onze Molen in Durbanville het onlangs haar 90ste verjaarsdag gevier.
Sy skryf al van 1947 kinderversies en toe sy entoesiasties vertel van haar lank gelede se onthou op die musiekfront, en haar verbintenis met Johan Stemmet van Noot vir Noot faam, het ek geweet …
Gebore op 29 Maart 1927, het Rika as ’n Van Rhynsdorp-kind grootgeword waarna sy haar by die Wellingtonse Opleidings-Kollege as onderwyseres bekwaam het. Sy het die meeste van haar jonkwees-jare in die Boland deurgebring.
Sy het later as getroude vrou by baie verskillende skole onderwysposte beklee en was van 1973 af by die Mowbrayse Onderwysers-Kollege tot sy in 1979 afgetree het.
Dis toé dat sy Johan deur ’n gemeenskaplike vriendin ontmoet het. Hy was ’n Afrikaans eerstetaal onderwyser aan die Hoër Seunskool Rondebosch.
“Rika is so ’n spesiale mens wat so ‘n groot rol in my lewe gespeel het”, aldus Johan.
Johan vertel naweke was ’n eenmansorkes sy voorland en dat hy ook op daardie stadium saam met die skrywer Hennie Aucamp aan Afrikaanse kabaret begin werk het. “Ek het van sy werke getoonset wat dan gelei het tot my eerste televisieoptrede op ’n program met die naam Perspektief in 1979. In hierdie tyd het ek ook met Rika se verse kennis gemaak, ’n woordsmit met ’n fantastiese gawe om met Afrikaans te toor,” voeg hy by.
“Ons het saam begin skryf, sy die woorde en ek die musiek en so het ons baie goeie vriende geraak. Jou huis is waar jou hart is was een van die eerste liedjies wat ons saamgeskryf het. Die sanger Sias Reinecke van Groep2 faam het die liedjie opgeneem en dit was ’n kitstreffer. Septemberland het gevolg, wat ekself opgeneem het en daarna ’n hele paar op my eerste langspeler.”
Alhoewel Johan bekendes soos Fanus Rautenbach en Hennie Aucamp se lirieke getoonset en opgeneem het, was dit egter Rika se lirieke “wat altyd net daardie besondere iets in my geraak het,” sê hy.
“Sy kon Namakwaland, my geboortestreek, so raakvat in ’n sin soos niemand anders kon nie. Sy kon praat van skilpad wat sy paadjie oopploeg deur stinkkruidlaag se droë loop. Sy kon praat van die witkopwolk wat immer wyk want as die rëen slegs eenmaal kom dan pronk my land Septemberblom. Sy kon Krantzberg se tiekieboom so raakvat dan kom die misbank oor die see van Lambertsbaai gewaai en spinnerak om besembos waar die boer sy koring saai. By Witwater se dam tot Claypansiding aan En swier om Tiekieboom se stam fluweel van donkermaan ”
In die tagtigerjare, toe Johan al die orkes gehad het, is daar by ’n simposium van drie dae se werksessies wat in Stellenbosch gehou is, geleer om liedjies te skryf en wysies te maak, almal het heerlik saam konsert gehou. “So het die hele beweging van ‘musiek en liriek’ begin en baie van ons kunstenaars is daar ontdek.”
Rika onthou dat Johan binne ’n halfuur ’n bruikbare wysie kon byvoeg by haar lirieke, wat hy dan vir haar terugspeel het en dat die heel eerste liedjie wat hul saam getoonset het, Sonbesie en Suikerbek was en toe het Tiekieboom gekom.
Dis ook toe dat Professor DJ Opperman haar bundel, Die Rymelaar van Toet geneem en aan Human en Rossouw voorgelê het, waarna dit toe opgeneem is in sy, DJ Opperman se Kleuterverseboek.
Sedertdien het soveel lirieke al uit haar pen gevloei en sodoende het baie van ons land se gewildste kunstenaars ook al van haar liedjies gesing.
In My land, My lied waarvan sy die tekste geskryf het, is daar elke week oor ’n ander deel van ons land voorgedra deur bekendes soos onder andere Fanus Rautenbach, Patrick Mynhardt, Margot Luyt en Anna Neethling Pöhl.
Dan was daar Manuel Escorcio se Kersfees-liedjies, Danie Niehaus se Rieksie Rautenbach tot Carika Keuzenkamp se Kraaines, almal waarin van haar verse deel gehad het.
“Rika Nel is enig in haar soort en nou is sy al negentig. Wat ’n besonderse voorreg om so ’n vriendin in ’n mens se lewe te mag lê”, sê Johan.
Maklik onthou Rika ook nog versies uit Rympies vir pikkies en peuters saamgestel deur Riana Scheepers; Kleuterverseboek deur DJ Opperman of die Nuwe Kinderverseboek deur Riana Scheepers en Suzette Kotze-Myburgh.
Rika lewer steeds bydraes soos benodig, volgens die riglyne van Riana Scheepers.
Aksierympie, Rika Nel, uit DJ Opperman se Kleuterverseboek
Met my hande klap, klap, klap,
met my voete stap, stap, stap.
Ek kan my kniee knik, knik,
met my vingers tik, tik.
Altwee arms lig ek op,
daarmee raak ek aan my kop,
met my mond tel ek tot tien,
met my oe kan ek sien,
alles om my kan ek hoor,
want ek luister met my oor!
My speelgoed sal ek sommer los,
want my neusie ruik die kos!