Die sewe susters is nou wel nie die sterretjies in die hemelruim nie, maar elkeen van die Farmer-susters is ‘n vonkelende sterretjie in eie reg.
Opgeruimd, inspirerend en positief het die Farmer-susters met ‘n briljante plan vorendag gekom en nou nog na baie jare word daar steeds elke maand beurtelings, gesellig saam gekuier met hul ruil-projek, wat uiteindelik liefdadigheid ondersteun.
Ons almal het heelwaarskynlik oorbodige items wat nodeloos rondlê, daarom is hierdie juis ‘n goeie plan om daarvan ontslae te raak.
Saterdag 12 Mei was weer so ‘n gesellige geleentheid van samesyn vir die Farmer-susters.
Elkeen het iets gebring en almal stap daar weg met soveel vreugde in hul harte oor hul nuwe items, hetsy dit nou ‘n nommertjie of skoene is, boeke, linne of werks-artikels, toerusting of wat ook al. Enige onbruikbare item in jou huis, kan iemand anders gewoonlik nuttig gebruik.
Handige wenke word ook entoesiasties gedeel . . . of dit nou is vir heerlike “butternut” sop of om ‘n serp te vou, skoonheidswenke, of wenke om fiks en soepel te bly of selfs hoe om ‘n dorre tuin weer nuwe lewe te gee met klippies en vetplantjies.
‘n Rangskikking van vetplantjies, gepluk uit Ronel Farmer van Worcester en Marie Gladstone van Brackenfell se tuine, was juis daar vir elkeen teenwoordig om ‘n steggie te neem om te gaan plant. Dit was spesiaal met die oog op Moedersdag die volgende dag.
Almal saam het gesorg vir al die heerlikhede om die innerlike tot versadiging te voed. Ook die sop en sjampanje was ‘n spesiale Moedersdag-bederfie.
“Dis ons Vitamien C-wegbreek en voorwaar is dit nodig om die batterye weer te laai vir nog ‘n maand”, sê Veronica Shehab van Parow.
Jy kan self ook so iets reën met jou boekklub – of kaartspeelvriende, of die manne wat “pool” speel of die kwiltguldevriende of wat ookal.
Dink net byvoorbeeld hoeveel handige gereedskap lê dalk nodeloos tuis rond, wat iemand vaardig eerder handig kan gebruik.
Onthou wat nie daar geruil word, gaan dan vir liefdadigheids-organisasies om in andere se behoeftes te voorsien.
Niks word verkoop nie, net weggegee. Hul sê mos “hoe meer jy gee, hoe meer ontvang jy, maar jy gee nooit om iets terug te ontvang nie”.
Behalwe vir een suster wat pas afgetree het, staan al die ander Farmer-susters nog in ‘* beroep. Een suster is al oorlede.