Laerskool Bellville Noord se Groentjiesklub het ‘n baie aangename uitstappie op Saterdag, 10 November, na die V&A Waterkant meegemaak. Hulle het Stasie 3 van die Nasionale See Reddings Instituut (NSRI) besoek waar die vrywilligers Quentin Botha en Jaco de Witt die spannetjie meer van hul belangrike werk vertel het. Die skool het ook ‘n skenking aan hulle oorhandig aangesien die NSRI afhanklik is van donasies om te kan bestaan. Daarna was hulle vir twee baie interessante ure by die Chavonnes Battery Museum. Hulle het ook ‘n spesiale foto-uitstalling vanuit China hier besigtig en die optrede van ‘n jong Afrika-dansgroepie by die opelugverhoog geniet en lekker saam ritmies hande geklap.